| ← Psalms (74/150) → |
| 1. | 'n Onderwysing van Asaf. o God, waarom het U vir altyd verstoot? Waarom rook u toorn teen die skape van u weide? |
| 2. | Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het. |
| 3. | Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel. |
| 4. | U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel. |
| 5. | Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in 'n digte plek bome. |
| 6. | En nou- die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan. |
| 7. | Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig. |
| 8. | Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand. |
| 9. | Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie. |
| 10. | Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag? |
| 11. | Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig! |
| 12. | Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde. |
| 13. | U het deur u sterkte die see geklief; U het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek. |
| 14. | U het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir 'n volk- vir woestyndiere. |
| 15. | U het fontein en stroom oopgeslaan; U het standhoudende riviere laat opdroog. |
| 16. | Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; U het hemelligte en son vasgestel. |
| 17. | U het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, U het hulle geformeer. |
| 18. | Dink hieraan: Die vyand het die HERE gesmaad, en 'n dwase volk het u Naam verag. |
| 19. | Gee aan die wilde diere die siel van u tortelduif nie oor nie; vergeet nie vir altyd die lewe van u ellendiges nie. |
| 20. | Aanskou die verbond, want die donker plekke van die land is vol wonings van geweld. |
| 21. | Laat die verdrukte nie beskaamd terugkom nie; laat die ellendige en behoeftige u Naam prys. |
| 22. | Staan op, o God, verdedig u saak; dink aan die smaad wat U die hele dag aangedoen word deur 'n dwaas. |
| 23. | Vergeet nie die geroep van u teëstanders nie- die rumoer van u opstandige vyande, wat altyddeur opgaan! |
| ← Psalms (74/150) → |