| ← Psalms (107/150) → |
| 1. | Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! |
| 2. | Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het |
| 3. | en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af. |
| 4. | Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie. |
| 5. | Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag. |
| 6. | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered. |
| 7. | En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon. |
| 8. | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; |
| 9. | want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul. |
| 10. | Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters- |
| 11. | omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, |
| 12. | het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. |
| 13. | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. |
| 14. | Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek. |
| 15. | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; |
| 16. | want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan. |
| 17. | Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is- |
| 18. | hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom. |
| 19. | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. |
| 20. | Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red. |
| 21. | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; |
| 22. | en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel. |
| 23. | Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters- |
| 24. | húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte. |
| 25. | Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het. |
| 26. | Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes- hulle siel het vergaan van wee. |
| 27. | Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar. |
| 28. | Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. |
| 29. | Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. |
| 30. | Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte. |
| 31. | Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders. |
| 32. | En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes. |
| 33. | Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland, |
| 34. | vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon. |
| 35. | Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine; |
| 36. | en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon. |
| 37. | En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het. |
| 38. | En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie. |
| 39. | Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer- |
| 40. | Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad- |
| 41. | Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak. |
| 42. | Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe. |
| 43. | Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE. |
| ← Psalms (107/150) → |