← Proverbs (7/31) → |
1. | My seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou; |
2. | onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel; |
3. | bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart. |
4. | Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling, |
5. | sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei. |
6. | Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk, |
7. | en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense 'n verstandelose jongman opgemerk, |
8. | wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap, |
9. | in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker. |
10. | En kyk, daar kom 'n vrou hom tegemoet, soos 'n hoer aangetrek en listig van hart-- |
11. | sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie-- |
12. | nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer. |
13. | En sy het hom gegryp en hom gesoen, met 'n onbeskaamde gesig vir hom gesê: |
14. | Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal; |
15. | daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry. |
16. | Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne; |
17. | ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel-- |
18. | kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste. |
19. | Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan, |
20. | die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom. |
21. | Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok. |
22. | Hy loop skielik agter haar aan soos 'n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot, |
23. | totdat die pyl sy lewer splits; soos 'n voël haastig na die vangnet vlieg--sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is. |
24. | Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond. |
25. | Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie. |
26. | Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is. |
27. | Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood. |
← Proverbs (7/31) → |