← Proverbs (14/31) → |
1. | Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af. |
2. | Wie in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom. |
3. | In die mond van die sot is 'n roede vir sy trots, maar die lippe van die wyse bewaar hulle. |
4. | Waar geen beeste is nie, is die krip leeg, maar deur die krag van die os is die inkomste baie. |
5. | 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n valse getuie strooi leuens uit. |
6. | Die spotter soek wysheid, en dit is nie daar nie; maar vir die verstandige is kennis maklik. |
7. | Gaan weg voor 'n dwase man, want jy het daar niks gemerk van die lippe van kennis nie. |
8. | Die wysheid van die skrandere is om sy weg te verstaan, maar die sotheid van die dwase is bedrog. |
9. | Die skuldoffer spot met die dwase, maar tussen die opregtes is daar welwillendheid. |
10. | Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan 'n ander hom nie meng nie. |
11. | Die huis van die goddelose word verdelg, maar die tent van die opregtes bloei. |
12. | Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. |
13. | Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so 'n blydskap is bekommernis. |
14. | Uit sy eie wandel word die verkeerde van hart versadig, maar die goeie man uit syne. |
15. | Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe. |
16. | Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol selfvertroue. |
17. | Wie kortgebonde is, begaan sotheid; en 'n slinkse man word gehaat. |
18. | Die eenvoudiges verkry sotheid as 'n erfenis, maar die skranderes word met kennis gekroon. |
19. | Die slegtes moet buig voor die goeies, en die goddelose by die poorte van die regverdige. |
20. | Die arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk. |
21. | Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelyde het met die ellendiges, hy is gelukkig. |
22. | Verdwaal hulle nie wat onheil bewerk nie? Maar liefde en trou is vir die wat die goeie bewerk. |
23. | In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek. |
24. | Die kroon van die wyse is hulle rykdom, die sotheid van die dwase bly sotheid. |
25. | 'n Betroubare getuie red lewens, maar hy wat leuens uitstrooi, is bedrog. |
26. | In die vrees van die HERE lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees. |
27. | Die vrees van die HERE is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk. |
28. | In die menigte van die volk lê die heerlikheid van die koning, maar in die gebrek aan mense die ondergang van die vors. |
29. | Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid. |
30. | 'n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog 'n verrotting vir die gebeente. |
31. | Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom. |
32. | In sy ongeluk word die goddelose omgestoot, maar die regverdige vind 'n toevlug by sy dood. |
33. | Wysheid rus in die hart van die verstandige, word selfs rugbaar te midde van die dwase. |
34. | Geregtigheid verhoog 'n volk, maar die sonde is 'n skandvlek vir die nasies. |
35. | Die welbehae van die koning is vir 'n verstandige dienaar, maar een wat skande maak, is 'n voorwerp van sy grimmigheid. |
← Proverbs (14/31) → |