← Job (40/42) → |
1. | En die HERE het Job uit 'n storm geantwoord en gesê: |
2. | Gord tog jou heupe soos 'n man; Ek sal jou ondervra en onderrig jy My. |
3. | Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê? |
4. | Het jy dan 'n arm soos God? En kan jy donder met die stem soos Hy? |
5. | Versier jou tog met heerlikheid en hoogheid, en beklee jou met majesteit en glorie! |
6. | Giet jou toorn in strome uit; en kyk na alles wat hoog is, en verneder dit. |
7. | Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan. |
8. | Begrawe hulle almal saam in die stof; sluit hulle aangesigte in 'n verborge plek weg. |
9. | Dan sal ook Ek jou loof, omdat jou regterhand jou die oorwinning gee. |
10. | Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees. |
11. | Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. |
12. | Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg. |
13. | Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster. |
14. | Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf. |
15. | Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar. |
16. | Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. |
17. | Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom. |
18. | As die rivier swel--hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis 'n Jordaan teen sy mond. |
19. | Sal 'n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor? |
20. | Kan jy die krokodil met 'n hoek uittrek? En met 'n tou sy tong afdruk? |
21. | Kan jy 'n tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met 'n haak deurboor? |
22. | Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde? |
23. | Sal hy 'n verbond met jou sluit, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem? |
24. | Sal jy met hom soos met 'n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders? |
25. | Sal die viskopers met hom handel drywe, hom verdeel onder die koopmans? |
26. | Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met 'n vissersharpoen sy kop? |
27. | Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie. |
28. | Kyk, elke hoop kom bedroë uit: sal 'n mens nie reeds by die sien van hom neerslaan nie? |
← Job (40/42) → |