| ← Job (39/42) → |
| 1. | Kan jy prooi jag vir die leeuin? Of die honger van die jong leeus stil maak |
| 2. | as hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer? |
| 3. | Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel? |
| 4. | Weet jy die tyd as die steenbokke lam? Neem jy dit waar as die takbokooie voortbring? |
| 5. | Tel jy die maande wat hulle dragtig is? En weet jy die tyd dat hulle lam? |
| 6. | Hulle buig hul krom, bring hulle kleintjies voort--weg is hulle weë! |
| 7. | Hulle kleintjies word sterk, word groot in die veld, loop weg en kom na hulle nie terug nie. |
| 8. | Wie het die wilde-esel so vry laat loop? En wie het die bande van die woestyn-esel losgemaak? |
| 9. | Vir hom het Ek die wildernis sy huis gemaak en die brak land sy woonplek. |
| 10. | Hy lag oor die gewoel van die stad; die geskreeu van die drywer hoor hy nie. |
| 11. | Die omgewing van die berge is sy weiveld; en al wat groen is, soek hy uit. |
| 12. | Sal die buffel gewillig wees om jou te dien? Of sal hy vernag by jou krip? |
| 13. | Kan jy die buffel aan die ploegvoor bind met sy trektou? Of sal hy die laagtes agter jou eg? |
| 14. | Sal jy op hom vertrou, omdat sy krag groot is? En aan hom jou arbeid oorlaat? |
| 15. | Kan jy op hom reken, dat hy jou gesaaide sal inbring en bymekaarmaak op jou dorsvloer? |
| 16. | Die vlerk van die volstruis klap vrolik. Is dit 'n sagaardige vleuel en veer? |
| 17. | Want sy laat haar eiers op die grond lê en hou hulle warm op die grond; |
| 18. | en vergeet dat 'n voet dit kan stukkend druk en die wilde diere van die veld dit kan vertrap. |
| 19. | Hard behandel sy haar kleintjies asof dit nie hare is nie; is haar moeite tevergeefs--sy is nie bekommerd nie. |
| 20. | Want God het haar die wysheid ontsê en haar geen deel gegee aan die verstand nie. |
| 21. | Wanneer sy haarself in die hoogte klap, lag sy oor die perd en sy ruiter. |
| 22. | Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare? |
| 23. | Laat jy hom spring soos die sprinkaan? Sy trotse gesnuif is 'n verskrikking. |
| 24. | Hy grawe in die laagte en is vrolik in sy krag; hy trek uit, die stryd tegemoet. |
| 25. | Hy lag oor die vrees en word nie verskrik nie en draai nie om vir die swaard nie. |
| 26. | Op hom rammel die pylkoker, die flikkerende spies en lans. |
| 27. | Onstuimig en wild verslind hy die grond en staan nie stil as die basuin klink nie. |
| 28. | By elke basuinstoot sê hy: Heag! En van ver ruik hy die oorlog, die donderroep van die leërowerstes en die oorlogsgeskreeu. |
| 29. | Sweef die valk opwaarts deur jou verstand en sprei sy vlerke uit na die suide toe? |
| 30. | Of vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes? |
| 31. | Op die rots woon hy en vernag hy, op die rotspunt en bergvesting. |
| 32. | Daarvandaan loer hy op voedsel, sy oë kyk in die verte. |
| 33. | Ook slurp sy kleintjies bloed, en waar gesneuweldes lê, daar is hy. |
| 34. | En die HERE het Job geantwoord en gesê: |
| 35. | Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord! |
| 36. | Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: |
| 37. | Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. |
| 38. | Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie. |
| ← Job (39/42) → |