| ← Job (31/42) → |
| 1. | Ek het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou? |
| 2. | Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes-- |
| 3. | is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie? |
| 4. | Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie? |
| 5. | As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: |
| 6. | laat Hy my dan weeg op 'n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet! |
| 7. | As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande 'n vlek gekleef het-- |
| 8. | laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word. |
| 9. | As my hart verlok was oor 'n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste-- |
| 10. | laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. |
| 11. | Want dit is 'n skandelike daad, en dit is 'n strafbare misdaad. |
| 12. | Ja, dit is 'n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel. |
| 13. | As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle 'n geskil met my gehad het-- |
| 14. | wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen? |
| 15. | Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie? |
| 16. | As ek die armes 'n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het |
| 17. | en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet; |
| 18. | (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by 'n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!) |
| 19. | as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie; |
| 20. | as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie; |
| 21. | as ek my hand teen 'n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het-- |
| 22. | laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word. |
| 23. | Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig. |
| 24. | As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! |
| 25. | As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; |
| 26. | as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, |
| 27. | en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle 'n kus toegewerp het-- |
| 28. | ook dit sou 'n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het. |
| 29. | As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het; |
| 30. | (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur 'n vloek sy lewe te vorder nie!) |
| 31. | as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie? |
| 32. | (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!) |
| 33. | as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek, |
| 34. | omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie! |
| 35. | Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het! |
| 36. | Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as 'n krans. |
| 37. | Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as 'n vors sou ek na Hom toe aankom. |
| 38. | As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween; |
| 39. | as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het-- |
| 40. | laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job. |
| ← Job (31/42) → |