← Job (28/42) → |
1. | Want vir die silwer is daar 'n plek waar dit uitkom, en 'n plek vir die goud wat hulle uitwas. |
2. | Yster word uit die grond gehaal, en koper word uit klip gegiet. |
3. | 'n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee. |
4. | Hy breek 'n mynskag, wég van hom wat bo woon; hulle wat vergeet is deur die voet daarbo, hulle hang ver van mense af, hulle swaai heen en weer. |
5. | Die aarde--daar kom brood uit voort, maar daaronder word dit omgewoel soos deur vuur. |
6. | Die klippe daarvan is die plek van saffiere, en dit bevat stoffies van goud. |
7. | 'n Pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie; |
8. | waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie. |
9. | Hy slaan sy hand aan die klipharde rots, hy woel die berge van die wortel af om. |
10. | In die rotse breek hy gange uit, en sy oog sien allerhande kosbare dinge. |
11. | Hy stop waterare toe, dat hulle nie drup nie; en wat verborge was, bring hy aan die lig. |
12. | Maar die wysheid--waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand? |
13. | Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie. |
14. | Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie. |
15. | Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie. |
16. | Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie. |
17. | Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil 'n mens dit nie. |
18. | Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale. |
19. | Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie. |
20. | Die wysheid dan--waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand? |
21. | Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel. |
22. | Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor. |
23. | God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan. |
24. | Want Hy sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy. |
25. | Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het, |
26. | toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal, |
27. | toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors. |
28. | Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand. |
← Job (28/42) → |