← Job (21/42) → |
1. | Maar Job het geantwoord en gesê: |
2. | Luister goed na my rede, en laat dit die vertroostinge wees wat julle aanbied. |
3. | Verdra my, dat ek ook kan spreek; en nadat ek gespreek het, kan jy spot. |
4. | Wat my aangaan, geld my geklaag dan 'n mens? Of waarom sou ek nie ongeduldig word nie? |
5. | Kyk my aan, en wees verskrik; en lê die hand op die mond. |
6. | Ja, as ek daaraan dink, is ek glad verslae, en verskrikking gryp my vlees aan. |
7. | Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag? |
8. | Hulle nakomelinge bestaan voor hulle in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë. |
9. | Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie. |
10. | Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie. |
11. | Hulle laat hul jong seuns loop soos 'n trop kleinvee, en hul kinders spring rond. |
12. | Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit. |
13. | In voorspoed slyt hulle hul dae, en in 'n oomblik sink hulle in die doderyk af. |
14. | Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie. |
15. | Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring? |
16. | (Kyk, hulle voorspoed is nie in húl hand nie: die gesindheid van die goddelose is ver van my!) |
17. | Hoe selde gaan die lamp van die goddelose dood en oorval hul ondergang hulle! Deel Hy smarte uit in sy toorn, |
18. | word hulle soos strooi voor die wind, en soos kaf wat die stormwind wegvoer? |
19. | Julle sê: God spaar sy onheil vir sy kinders op. Ek sê: Hy moes dit aan homself vergeld, dat hy kan voel! |
20. | Sy eie oë moes sy ongeluk sien, en sélf moes hy drink van die grimmigheid van die Almagtige. |
21. | Want wat gee hy om sy huis ná hom as die getal van sy maande afgesny is? |
22. | Wil iemand aan God kennis leer, Hom wat die hemelse wesens oordeel? |
23. | Die een sterwe in volkome geluk, heeltemal gerus en tevrede. |
24. | Sy emmers is vol melk, en die murg van sy gebeente word deur en deur bevogtig. |
25. | Die ander daarenteen sterwe met bitterheid van siel sonder dat hy van die goeie geniet het. |
26. | Saam lê hulle in die stof, en die wurms oordek hulle. |
27. | Kyk, ek ken julle gedagtes en die slim planne waarmee julle gewelddadig teen my optree. |
28. | As julle sê: Waar is die huis van die tiran, en waar die woontent van die goddelose-- |
29. | het julle dan nie navraag gedoen by die reisigers nie (hulle bewyse kan julle tog nie loën nie!): |
30. | dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid? |
31. | Wie gee hom openlik sy gedrag te kenne; en het hy gehandel--wie sal hom dit vergeld? |
32. | Dan word hy na die graf gebring, en hulle sorg vir sy grafheuwel. |
33. | Sag lê op hom die kluite van die dal; en agter hom trek al die mense aan soos daar ontelbares voor hom gewees het. |
34. | Hoe troos julle my dan op so 'n nietige manier? En julle antwoorde--net troubreuk bly oor! |
← Job (21/42) → |