| ← Job (20/42) → |
| 1. | Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê: |
| 2. | Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my. |
| 3. | 'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my. |
| 4. | Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is: |
| 5. | dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik? |
| 6. | Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke-- |
| 7. | soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy? |
| 8. | Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig. |
| 9. | Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie. |
| 10. | Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee. |
| 11. | Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof. |
| 12. | Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong, |
| 13. | al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte-- |
| 14. | tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste. |
| 15. | Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg. |
| 16. | Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood. |
| 17. | Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie. |
| 18. | Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie. |
| 19. | Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie. |
| 20. | Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie. |
| 21. | Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie. |
| 22. | By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom. |
| 23. | Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel. |
| 24. | Hy sal vlug vir die ysterwapens--'n koperboog sal hom deurboor. |
| 25. | Hy trek--daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom! |
| 26. | Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly. |
| 27. | Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op. |
| 28. | Weggevoer word die opbrings van sy huis--goed wat wegspoel op die dag van sy toorn. |
| 29. | Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God. |
| ← Job (20/42) → |