| ← Job (18/42) → |
| 1. | Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê: |
| 2. | Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek. |
| 3. | Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë? |
| 4. | Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn--sal om jou ontwil die aarde verlate wees of 'n rots uit sy plek versit word? |
| 5. | Ja, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie. |
| 6. | Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood. |
| 7. | Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver. |
| 8. | Want hy raak in 'n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van 'n vangkuil. |
| 9. | 'n Vangnet gryp sy hakskeen, 'n strik hou hom vas. |
| 10. | 'n Tou is vir hom verberg in die grond en 'n valstrik vir hom op die pad. |
| 11. | Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan. |
| 12. | Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val. |
| 13. | Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede. |
| 14. | Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge. |
| 15. | Daar woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning. |
| 16. | Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak. |
| 17. | Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie. |
| 18. | Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom. |
| 19. | Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie. |
| 20. | Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan. |
| 21. | Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie. |
| ← Job (18/42) → |