← Genesis (15/50) → |
1. | Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot. |
2. | Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? |
3. | Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. |
4. | Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. |
5. | Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. |
6. | En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. |
7. | Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee. |
8. | En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem? |
9. | En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. |
10. | En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. |
11. | Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. |
12. | En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. |
13. | Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. |
14. | Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. |
15. | Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. |
16. | En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. |
17. | En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. |
18. | Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: |
19. | die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete |
20. | en Hetiete en Feresiete en Refaïete |
21. | en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete. |
← Genesis (15/50) → |