| ← Titus (2/3) → |
| 1. | Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas. |
| 2. | Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid. |
| 3. | Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is, |
| 4. | sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, |
| 5. | ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie. |
| 6. | Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees. |
| 7. | Betoon jou in alles 'n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. |
| 8. | Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie. |
| 9. | Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; |
| 10. | hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier. |
| 11. | Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn |
| 12. | en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, |
| 13. | terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, |
| 14. | wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. |
| 15. | Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie. |
| ← Titus (2/3) → |