| ← Psalms (9/150) → |
| 1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Sterf vir die Seun". 'n Psalm van Dawid. |
| 2. | Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel. |
| 3. | In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste, |
| 4. | omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig. |
| 5. | Want U het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter! |
| 6. | U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd. |
| 7. | Die vyande het omgekom- puinhope vir ewig; ook die stede wat U verwoes het; hulle gedagtenis, ja, dié het vergaan. |
| 8. | Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel. |
| 9. | En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg. |
| 10. | So is die HERE dan 'n rotsvesting vir die verdrukte, 'n rotsvesting in tye van benoudheid. |
| 11. | En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE! |
| 12. | Psalmsing tot eer van die HERE wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade. |
| 13. | Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie. |
| 14. | Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood; |
| 15. | sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil. |
| 16. | Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het. |
| 17. | Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajon. Sela. |
| 18. | Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet. |
| 19. | Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie. |
| 20. | Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! |
| 21. | o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela. |
| ← Psalms (9/150) → |