| ← Psalms (89/150) → | 
| 1. | 'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. | 
| 2. | Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. | 
| 3. | Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele- daar bevestig U u trou. | 
| 4. | Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe: | 
| 5. | Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela. | 
| 6. | En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges. | 
| 7. | Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge, | 
| 8. | 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is? | 
| 9. | o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U! | 
| 10. | U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring. | 
| 11. | U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi. | 
| 12. | Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid- U het dit gegrond. | 
| 13. | Die noorde en die suide- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam. | 
| 14. | U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe. | 
| 15. | Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit. | 
| 16. | Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. | 
| 17. | In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. | 
| 18. | Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef. | 
| 19. | Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel. | 
| 20. | Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef. | 
| 21. | Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, | 
| 22. | met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. | 
| 23. | Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie; | 
| 24. | maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan. | 
| 25. | En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word. | 
| 26. | En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. | 
| 27. | Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! | 
| 28. | Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde. | 
| 29. | Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. | 
| 30. | En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. | 
| 31. | As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; | 
| 32. | as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, | 
| 33. | dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. | 
| 34. | Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. | 
| 35. | Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. | 
| 36. | Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! | 
| 37. | Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. | 
| 38. | Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela. | 
| 39. | Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. | 
| 40. | U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond. | 
| 41. | U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak. | 
| 42. | Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword. | 
| 43. | U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak. | 
| 44. | Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie. | 
| 45. | U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp. | 
| 46. | U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela. | 
| 47. | Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur? | 
| 48. | Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het! | 
| 49. | Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela. | 
| 50. | Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou? | 
| 51. | Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke, | 
| 52. | waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad. | 
| 53. | Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen. | 
| ← Psalms (89/150) → |