Psalms (86/150)  

1. 'n Gebed van Dawid. HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.
2. Bewaar my siel, want 'n gunsgenoot is ek; U, my God, verlos u kneg wat op U vertrou.
3. Wees my genadig, o Here, want ek roep U aan die hele dag deur.
4. Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op.
5. Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.
6. HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge.
7. In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my.
8. Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.
9. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer;
10. want U is groot en doen wonders, U alleen is God.
11. Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.
12. Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer;
13. want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.
14. o God, vermeteles het teen my opgestaan, en 'n bende tiranne soek my lewe; en hulle stel U nie voor hul oë nie.
15. Maar U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.
16. Wend U tot my en wees my genadig; gee u sterkte aan u kneg en verlos die seun van u diensmaagd.
17. Doen aan my 'n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o HERE, my gehelp en getroos het.

  Psalms (86/150)