| ← Psalms (80/150) → | 
| 1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies". 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm. | 
| 2. | o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans! | 
| 3. | Wek u mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp! | 
| 4. | o God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! | 
| 5. | o HERE, God van die leërskare, hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk? | 
| 6. | U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink. | 
| 7. | U het ons 'n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot. | 
| 8. | o God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! | 
| 9. | 'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant. | 
| 10. | U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul. | 
| 11. | Die berge was oordek met sy skaduwee, en met sy ranke die seders van God. | 
| 12. | Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe. | 
| 13. | Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk? | 
| 14. | Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af. | 
| 15. | o God van die leërskare, kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok; | 
| 16. | en wees 'n beskerming vir wat u regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het. | 
| 17. | Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om. | 
| 18. | Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het. | 
| 19. | Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep. | 
| 20. | o HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word! | 
| ← Psalms (80/150) → |