| ← Psalms (78/150) → |
| 1. | 'n Onderwysing van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond. |
| 2. | Ek wil my mond open met 'n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. |
| 3. | Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, |
| 4. | sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. |
| 5. | Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het- om dit aan hulle kinders bekend te maak, |
| 6. | sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, |
| 7. | en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, |
| 8. | en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en wederstrewige geslag, 'n geslag met 'n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie. |
| 9. | Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog. |
| 10. | Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. |
| 11. | En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het. |
| 12. | Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan. |
| 13. | Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos 'n wal. |
| 14. | En Hy het hulle bedags gelei met 'n wolk en die hele nag met 'n lig van vuur. |
| 15. | Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. |
| 16. | En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere. |
| 17. | Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land. |
| 18. | En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin. |
| 19. | En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God 'n tafel kan dek in die woestyn? |
| 20. | Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het- sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? |
| 21. | Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en 'n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel; |
| 22. | omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie. |
| 23. | En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; |
| 24. | en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. |
| 25. | Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur. |
| 26. | Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer; |
| 27. | en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë; |
| 28. | en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings. |
| 29. | Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig. |
| 30. | Hulle was nie weg van hul begeerte nie- hulle voedsel was nog in hulle mond- |
| 31. | toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het. |
| 32. | Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. |
| 33. | So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking. |
| 34. | Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; |
| 35. | en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. |
| 36. | En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; |
| 37. | maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie. |
| 38. | Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. |
| 39. | En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie. |
| 40. | Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis; |
| 41. | en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. |
| 42. | Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie; |
| 43. | toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan. |
| 44. | En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie. |
| 45. | Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het. |
| 46. | En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan. |
| 47. | Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp. |
| 48. | Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse. |
| 49. | Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, 'n uitsending van ongeluksbodes. |
| 50. | Hy het 'n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee. |
| 51. | En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam. |
| 52. | Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos 'n kudde in die woestyn. |
| 53. | Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek. |
| 54. | En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het. |
| 55. | En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in hulle tente laat woon. |
| 56. | Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie. |
| 57. | En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos 'n bedrieglike boog. |
| 58. | En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek. |
| 59. | God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp. |
| 60. | En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense. |
| 61. | En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander. |
| 62. | En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel. |
| 63. | Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. |
| 64. | Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie. |
| 65. | Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos 'n held wat oorweldig is deur die wyn; |
| 66. | en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle 'n ewige smaadheid aangedoen. |
| 67. | En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie, |
| 68. | maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet. |
| 69. | En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het. |
| 70. | En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. |
| 71. | Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. |
| 72. | En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande. |
| ← Psalms (78/150) → |