Psalms (74/150)  

1. 'n Onderwysing van Asaf. o God, waarom het U vir altyd verstoot? Waarom rook u toorn teen die skape van u weide?
2. Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het.
3. Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel.
4. U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel.
5. Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in 'n digte plek bome.
6. En nou- die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan.
7. Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.
8. Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.
9. Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.
10. Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?
11. Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!
12. Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde.
13. U het deur u sterkte die see geklief; U het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek.
14. U het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir 'n volk- vir woestyndiere.
15. U het fontein en stroom oopgeslaan; U het standhoudende riviere laat opdroog.
16. Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; U het hemelligte en son vasgestel.
17. U het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, U het hulle geformeer.
18. Dink hieraan: Die vyand het die HERE gesmaad, en 'n dwase volk het u Naam verag.
19. Gee aan die wilde diere die siel van u tortelduif nie oor nie; vergeet nie vir altyd die lewe van u ellendiges nie.
20. Aanskou die verbond, want die donker plekke van die land is vol wonings van geweld.
21. Laat die verdrukte nie beskaamd terugkom nie; laat die ellendige en behoeftige u Naam prys.
22. Staan op, o God, verdedig u saak; dink aan die smaad wat U die hele dag aangedoen word deur 'n dwaas.
23. Vergeet nie die geroep van u teëstanders nie- die rumoer van u opstandige vyande, wat altyddeur opgaan!

  Psalms (74/150)