← Psalms (62/150) → |
1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Dawid. |
2. | Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. |
3. | Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie. |
4. | Hoe lank sal julle aanstorm op 'n man, julle almal hom verbrysel soos 'n muur wat oorhang, 'n omgestote klipmuur? |
5. | Ja, hulle hou raad om hom van sy hoogte af te stoot; hulle het behae in leuens; met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle. Sela. |
6. | Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! |
7. | Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. |
8. | By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God. |
9. | Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela. |
10. | Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid. |
11. | Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie! |
12. | Een ding het God gespreek, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan God behoort, |
13. | en aan U, o Here, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk. |
← Psalms (62/150) → |