| ← Psalms (59/150) → | 
| 1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. 'n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak. | 
| 2. | Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders! | 
| 3. | Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed! | 
| 4. | Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE! | 
| 5. | Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk! | 
| 6. | Ja U, HERE, God van die leërskare, God van Israel, word wakker om oor al die heidene besoeking te doen; wees al die ongeregtige trouelose nie genadig nie! Sela. | 
| 7. | Elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad. | 
| 8. | Kyk, hulle smaal met hul mond; swaarde is op hulle lippe, want- wie sou dit hoor? | 
| 9. | Maar U, o HERE, lag oor hulle; U spot met al die heidene. | 
| 10. | My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting. | 
| 11. | My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien. | 
| 12. | Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie: laat hulle rondswerwe deur u krag, en werp hulle neer, o Here, ons Skild! | 
| 13. | Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel. | 
| 14. | Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela. | 
| 15. | En elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad. | 
| 16. | Húlle swerwe rond om voedsel te soek; as hulle nie versadig word nie, vertoef hulle die hele nag. | 
| 17. | Maar ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was 'n rotsvesting vir my en 'n toevlug in die dag toe ek benoud was. | 
| 18. | My Sterkte, tot u eer wil ek psalmsing, want God is my rotsvesting, my genadige God. | 
| ← Psalms (59/150) → |