← Psalms (57/150) → |
1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. 'n Gedig, toe hy vir Saul in die spelonk gevlug het. |
2. | Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het. |
3. | Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig. |
4. | Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen. Sela. God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur. |
5. | Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong 'n skerp swaard is. |
6. | Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde! |
7. | Hulle het 'n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het 'n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in. Sela. |
8. | My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing. |
9. | Waak op, my eer! Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak! |
10. | Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies. |
11. | Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke. |
12. | Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde! |
← Psalms (57/150) → |