| ← Psalms (49/150) → | 
| 1. | Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm. | 
| 2. | Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld, | 
| 3. | geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm! | 
| 4. | My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand. | 
| 5. | Ek sal my oor neig tot 'n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter. | 
| 6. | Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring- | 
| 7. | die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom? | 
| 8. | Niemand kan ooit 'n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie | 
| 9. | (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), | 
| 10. | dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie. | 
| 11. | Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na. | 
| 12. | Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name. | 
| 13. | Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan. | 
| 14. | Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde 'n behae het. Sela. | 
| 15. | Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie. | 
| 16. | Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela. | 
| 17. | Wees nie bevrees as 'n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie; | 
| 18. | want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie. | 
| 19. | Al ag hy homself gelukkig in sy lewe- en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen- | 
| 20. | tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie. | 
| 21. | Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan. | 
| ← Psalms (49/150) → |