← Psalms (46/150) → |
1. | Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied. |
2. | God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. |
3. | Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. |
4. | Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela. |
5. | Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. |
6. | God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. |
7. | Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. |
8. | Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela. |
9. | Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, |
10. | wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. |
11. | Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. |
12. | Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela. |
← Psalms (46/150) → |