Psalms (45/150)  

1. Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing. 'n Lied van die liefde.
2. My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande 'n Koning; my tong is die pen van 'n vaardige skrywer.
3. U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig.
4. Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;
5. ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!
6. U pyle is skerp,Volke val onder U!; hulle tref in die hart van die Koning se vyande.
7. U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer.
8. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.
9. Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.
10. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.
11. Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;
12. en as die Koning u skoonheid begeer- want Hy is u Heer- buig u dan voor Hom neer.
13. En, o dogter van Tirus- met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.
14. Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding.
15. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring.
16. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.
17. In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.
18. U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.

  Psalms (45/150)