← Psalms (44/150) → |
1. | Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Onderwysing. |
2. | o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: 'n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. |
3. | U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit. |
4. | Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U 'n welbehae in hulle gehad het. |
5. | U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob. |
6. | Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan. |
7. | Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie; |
8. | maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak. |
9. | In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela. |
10. | En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie. |
11. | U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus. |
12. | U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi. |
13. | U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie. |
14. | U maak ons 'n smaad vir ons bure, 'n spot en beskimping vir die wat rondom ons is. |
15. | U maak ons 'n spreekwoord onder die nasies, 'n hoofskudding onder die volke. |
16. | My skande is die hele dag voor my, en die skaamte van my aangesig oordek my; |
17. | weens die stem van die smader en lasteraar, weens die blik van die vyand en wraakgierige. |
18. | Dit alles het oor ons gekom, en tog het ons U nie vergeet en nie bedrieglik gehandel teen u verbond nie. |
19. | Ons hart het nie agteruitgewyk nie, en ons gange het van u pad nie afgebuig nie, |
20. | alhoewel U ons verbrysel het in 'n plek van jakkalse en ons met 'n doodskaduwee oordek. |
21. | As ons die Naam van onse God vergeet het en ons hande uitgebrei het na 'n vreemde god- |
22. | sou God dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart. |
23. | Maar om U ontwil word ons die hele dag gedood; ons word gereken as slagskape. |
24. | Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie! |
25. | Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking? |
26. | Want ons siel is in die stof neergebuig; ons buik kleef aan die aarde. |
27. | Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil! |
← Psalms (44/150) → |