Psalms (43/150)  

1. Doen aan my reg, o God, en verdedig my regsaak teen 'n onbarmhartige volk; red my van die man van bedrog en onreg!
2. Want U is die God van my toevlug; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking?
3. Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge,
4. dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God!
5. Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof- die verlossing van my aangesig en my God!

  Psalms (43/150)