← Psalms (35/150) → |
1. | 'n Psalm van Dawid. HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry! |
2. | Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp! |
3. | En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil! |
4. | Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word! |
5. | Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot. |
6. | Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg! |
7. | Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe. |
8. | Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting! |
9. | Maar my siel sal juig in die HERE, dit sal bly wees in sy heil. |
10. | Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower! |
11. | Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my. |
12. | Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel. |
13. | En ek- toe hulle siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem. |
14. | Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur. |
15. | Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou. |
16. | Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my. |
17. | Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af. |
18. | Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys. |
19. | Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie! |
20. | Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land. |
21. | En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien! |
22. | HERE, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie! |
23. | Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak. |
24. | Doen aan my reg na u geregtigheid, HERE my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie! |
25. | Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie! |
26. | Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word! |
27. | Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat 'n welbehae het in die vrede van sy kneg! |
28. | En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur. |
← Psalms (35/150) → |