| ← Psalms (30/150) → |
| 1. | 'n Psalm, 'n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid. |
| 2. | Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie. |
| 3. | HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. |
| 4. | HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal. |
| 5. | Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam; |
| 6. | want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig. |
| 7. | Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. |
| 8. | HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg- ek het verskrik geword! |
| 9. | Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek: |
| 10. | Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig? |
| 11. | Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my 'n helper! |
| 12. | U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; |
| 13. | sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof. |
| ← Psalms (30/150) → |