| ← Psalms (24/150) → |
| 1. | 'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; |
| 2. | want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome. |
| 3. | Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? |
| 4. | Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. |
| 5. | Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil. |
| 6. | Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek- dit is Jakob. Sela. |
| 7. | Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! |
| 8. | Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. |
| 9. | Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! |
| 10. | Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare- Hy is die Erekoning! Sela. |
| ← Psalms (24/150) → |