| ← Psalms (22/150) → | 
| 1. | Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." 'n Psalm van Dawid. | 
| 2. | My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? | 
| 3. | My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie. | 
| 4. | Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel! | 
| 5. | Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. | 
| 6. | Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie. | 
| 7. | Maar ek is 'n wurm en geen man nie, 'n smaad van die mense en verag deur die volk. | 
| 8. | Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: | 
| 9. | Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! | 
| 10. | Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. | 
| 11. | Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. | 
| 12. | Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. | 
| 13. | Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. | 
| 14. | Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos 'n leeu wat verskeur en brul. | 
| 15. | Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. | 
| 16. | My krag is verdroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. | 
| 17. | Want honde het my omsingel; 'n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. | 
| 18. | Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! | 
| 19. | Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. | 
| 20. | Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help! | 
| 21. | Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond. | 
| 22. | Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor! | 
| 23. | Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. | 
| 24. | Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! | 
| 25. | Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp. | 
| 26. | Van U kom my lof in 'n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees. | 
| 27. | Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! | 
| 28. | Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. | 
| 29. | Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies. | 
| 30. | Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie. | 
| 31. | 'n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag. | 
| 32. | Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen. | 
| ← Psalms (22/150) → |