| ← Psalms (19/150) → |
| 1. | Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. |
| 2. | Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. |
| 3. | Die een dag stort vir die ander 'n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: |
| 4. | daar is geen spraak en daar is geen woorde nie- onhoorbaar is hulle stem. |
| 5. | Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin 'n tent gemaak; |
| 6. | en dié is soos 'n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos 'n held om die pad te loop. |
| 7. | Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie. |
| 8. | Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. |
| 9. | Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. |
| 10. | Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid- tesame is hulle regverdig. |
| 11. | Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. |
| 12. | Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon. |
| 13. | Die afdwalinge-wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is. |
| 14. | Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding. |
| 15. | Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser! |
| ← Psalms (19/150) → |