| ← Psalms (17/150) → |
| 1. | HERE, hoor 'n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe. |
| 2. | Laat my reg van u aangesig uitgaan; laat u oë regverdig sien. |
| 3. | U het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie. |
| 4. | Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy. |
| 5. | My gange het vasgehou aan u spore, my voetstappe het nie gewankel nie. |
| 6. | Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord! |
| 7. | Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders! |
| 8. | Bewaar my soos 'n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels |
| 9. | teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring. |
| 10. | Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig. |
| 11. | Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek. |
| 12. | Hy is soos 'n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos 'n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê. |
| 13. | Staan op, HERE, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard; |
| 14. | met u hand van die manne, o HERE, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly. |
| 15. | Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word. |
| ← Psalms (17/150) → |