| ← Psalms (147/150) → | 
| 1. | Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas! | 
| 2. | Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. | 
| 3. | Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. | 
| 4. | Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. | 
| 5. | Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. | 
| 6. | Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. | 
| 7. | Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; | 
| 8. | wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, | 
| 9. | wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep. | 
| 10. | Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. | 
| 11. | Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. | 
| 12. | o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God! | 
| 13. | Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. | 
| 14. | Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring, | 
| 15. | wat sy bevel na die aarde stuur- sy woord loop baie vinnig. | 
| 16. | Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. | 
| 17. | Hy werp sy ys heen soos stukke- wie kan bestaan voor sy koue? | 
| 18. | Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai- die waters loop. | 
| 19. | Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. | 
| 20. | So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja! | 
| ← Psalms (147/150) → |