| ← Psalms (143/150) → |
| 1. | 'n Psalm van Dawid. o HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. |
| 2. | En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie. |
| 3. | Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. |
| 4. | En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste. |
| 5. | Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande. |
| 6. | Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela. |
| 7. | Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie. |
| 8. | Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. |
| 9. | Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek. |
| 10. | Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. |
| 11. | o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. |
| 12. | En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg. |
| ← Psalms (143/150) → |