| ← Psalms (105/150) → |
| 1. | Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. |
| 2. | Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders. |
| 3. | Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. |
| 4. | Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. |
| 5. | Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, |
| 6. | o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes! |
| 7. | Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. |
| 8. | Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte- |
| 9. | die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; |
| 10. | wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond, |
| 11. | met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. |
| 12. | Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, |
| 13. | en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, |
| 14. | het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: |
| 15. | Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. |
| 16. | En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek. |
| 17. | Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. |
| 18. | Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, |
| 19. | tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. |
| 20. | Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. |
| 21. | Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; |
| 22. | om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer. |
| 23. | Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. |
| 24. | En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders. |
| 25. | Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel. |
| 26. | Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het. |
| 27. | Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam. |
| 28. | Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie. |
| 29. | Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe. |
| 30. | Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings. |
| 31. | Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied. |
| 32. | Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land. |
| 33. | En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek. |
| 34. | Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal, |
| 35. | wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond. |
| 36. | Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag. |
| 37. | Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie. |
| 38. | Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval. |
| 39. | Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig. |
| 40. | Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood. |
| 41. | Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke- 'n rivier! |
| 42. | Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg. |
| 43. | En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel. |
| 44. | En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, |
| 45. | dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja! |
| ← Psalms (105/150) → |