← Psalms (104/150) → |
1. | Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed- |
2. | wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek; |
3. | wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel, |
4. | wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars. |
5. | Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie. |
6. | U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. |
7. | Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik- |
8. | berge het opgerys, laagtes het weggesak- na die plek wat U vir hulle reggemaak het. |
9. | 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie. |
10. | Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur. |
11. | Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors. |
12. | By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor. |
13. | Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. |
14. | Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, |
15. | en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk. |
16. | Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het; |
17. | waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is. |
18. | Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse. |
19. | Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan. |
20. | U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip. |
21. | Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God. |
22. | As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke. |
23. | Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe. |
24. | Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! |
25. | Daar is die see, groot en alkante toe wyd- daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes. |
26. | Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel. |
27. | Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. |
28. | U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. |
29. | U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. |
30. | U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut. |
31. | Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke, |
32. | Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook. |
33. | Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. |
34. | Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE! |
35. | Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die HERE, o my siel! Halleluja! |
← Psalms (104/150) → |