← Psalms (102/150) → |
1. | 'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. |
2. | o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom! |
3. | Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou! |
4. | Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd. |
5. | Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet. |
6. | Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees. |
7. | Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope. |
8. | Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak. |
9. | Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek. |
10. | Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane, |
11. | vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp. |
12. | My dae is soos 'n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek. |
13. | Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag. |
14. | U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom. |
15. | Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin. |
16. | Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid; |
17. | omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het, |
18. | Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie. |
19. | Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof; |
20. | omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het, |
21. | om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood; |
22. | sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem, |
23. | as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien. |
24. | Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort. |
25. | My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie- u jare is van geslag tot geslag! |
26. | In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. |
27. | Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn. |
28. | Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie. |
29. | Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan. |
← Psalms (102/150) → |