| ← Proverbs (6/31) → |
| 1. | My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het, |
| 2. | verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond, |
| 3. | doen dan dit, my seun, om jouself te red--want jy het in die hand van jou naaste geraak--gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste, |
| 4. | gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie; |
| 5. | red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger. |
| 6. | Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! |
| 7. | Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, |
| 8. | maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. |
| 9. | Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? |
| 10. | Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus! |
| 11. | So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man. |
| 12. | 'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop, |
| 13. | wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee; |
| 14. | in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai. |
| 15. | Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is. |
| 16. | Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel: |
| 17. | trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, |
| 18. | 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, |
| 19. | een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai. |
| 20. | Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; |
| 21. | bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals; |
| 22. | mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word. |
| 23. | Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe, |
| 24. | om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong. |
| 25. | Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie; |
| 26. | want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe. |
| 27. | Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? |
| 28. | Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? |
| 29. | So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie. |
| 30. | 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; |
| 31. | en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee. |
| 32. | Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets; |
| 33. | slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; |
| 34. | want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; |
| 35. | hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot. |
| ← Proverbs (6/31) → |