| ← Proverbs (31/31) |
| 1. | Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het: |
| 2. | Wat, my seun, ja wat, seun van my skoot, ja wat, seun van my geloftes, sal ek sê? |
| 3. | Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie. |
| 4. | Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; |
| 5. | anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges. |
| 6. | Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is. |
| 7. | Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie. |
| 8. | Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. |
| 9. | Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige. |
| 10. | Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. |
| 11. | Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. |
| 12. | Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. |
| 13. | Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. |
| 14. | He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar--van ver af bring sy haar brood in. |
| 15. | Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. |
| 16. | Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd. |
| 17. | Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. |
| 18. | Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. |
| 19. | Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. |
| 20. | Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. |
| 21. | Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. |
| 22. | Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. |
| 23. | Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. |
| 24. | Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. |
| 25. | Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. |
| 26. | Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. |
| 27. | Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. |
| 28. | Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: |
| 29. | Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. |
| 30. | Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. |
| 31. | Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poort. |
| ← Proverbs (31/31) |