← Proverbs (26/31) → |
1. | Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by 'n dwaas nie. |
2. | Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is 'n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie. |
3. | 'n Sweep is vir die perd, 'n toom vir die esel en 'n roede vir die rug van die dwase. |
4. | Antwoord 'n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. |
5. | Antwoord 'n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie. |
6. | Hy kap sy voete af, hy ly onreg, wat 'n boodskap stuur deur middel van 'n dwaas. |
7. | Soos die bene van 'n lamme slap afhang, so is 'n spreuk in die mond van die dwase. |
8. | Soos een wat 'n klip in 'n slinger vasbind, so is hy wat eer gee aan 'n dwaas. |
9. | Soos 'n doring wat in die hand van 'n dronkaard geraak het, so is 'n spreuk in die mond van die dwase. |
10. | Soos 'n skutter wat alles in gevaar bring, is hy wat 'n dwaas huur, sowel as hy wat verbygangers huur. |
11. | Soos 'n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is 'n dwaas wat sy sotheid weer ophaal. |
12. | Het jy 'n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom. |
13. | Die luiaard sê: Daar is 'n leeu op die pad, 'n leeu op die pleine. |
14. | 'n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed. |
15. | Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring. |
16. | Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord. |
17. | Hy wat 'n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor 'n twis wat hom nie aangaan nie. |
18. | Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, |
19. | so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar. |
20. | Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. |
21. | Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is 'n twisgierige man om 'n twis aan te hits. |
22. | Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste. |
23. | Silwerskuim waarmee 'n potskerf oorgetrek is--so is gloeiende lippe en 'n slegte hart. |
24. | Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog. |
25. | As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart. |
26. | Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar. |
27. | Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom. |
28. | 'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang. |
← Proverbs (26/31) → |