| ← Proverbs (2/31) → | 
| 1. | My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, | 
| 2. | sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; | 
| 3. | ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, | 
| 4. | as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, | 
| 5. | dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind | 
| 6. | (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand, | 
| 7. | en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is 'n skild vir die wat regskape wandel | 
| 8. | deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar); | 
| 9. | dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid--elke goeie pad. | 
| 10. | Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; | 
| 11. | oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, | 
| 12. | om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; | 
| 13. | van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weƫ van duisternis te wandel; | 
| 14. | die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte, | 
| 15. | van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore; | 
| 16. | om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei | 
| 17. | (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet; | 
| 18. | want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme; | 
| 19. | almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie) | 
| 20. | sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou; | 
| 21. | want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, | 
| 22. | maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word. | 
| ← Proverbs (2/31) → |