← Proverbs (19/31) → |
1. | 'n Arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as 'n verkeerde van lippe en daarby 'n dwaas. |
2. | Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie; en hy wat haastig is met die voete, trap mis. |
3. | 'n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE. |
4. | Goed bring baie vriende aan, maar die arme word deur sy vriend verlaat. |
5. | 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie. |
6. | Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het 'n hoop vriende. |
7. | Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde--weg is hulle! |
8. | Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind. |
9. | 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om. |
10. | Weelde pas nie vir 'n dwaas nie, hoeveel minder vir 'n kneg om oor vorste te heers! |
11. | Die verstand van 'n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom 'n eer om die oortreding te vergewe. |
12. | Die grimmigheid van 'n koning is soos die gebrom van 'n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante. |
13. | 'n Dwase seun is 'n ramp vir sy vader, en die gekyf van 'n vrou is 'n aanhoudende gedrup. |
14. | Huis en goed is 'n erfenis van die vaders, maar 'n verstandige vrou is van die HERE. |
15. | Luiheid laat in 'n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly. |
16. | Wie die gebod hou, bewaar sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterwe. |
17. | Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde. |
18. | Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie. |
19. | Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger. |
20. | Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. |
21. | Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan. |
22. | Die kostelike besit van 'n mens is sy weldadigheid; en liewer 'n arme as 'n leuenagtige man. |
23. | Die vrees van die HERE is tot die lewe; en versadig bring 'n mens die nag deur, sonder om deur 'n onheil besoek te word. |
24. | Steek die luiaard sy hand in die skottel, dan bring hy dit nie eens na sy mond terug nie. |
25. | Slaan jy die spotter, dan word die eenvoudige bedagsaam; maar bestraf jy die verstandige, dan sal hy kennis verkry. |
26. | Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is 'n seun wat skande maak en skandelik handel. |
27. | Hou op, my seun, om na tug te luister, terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis. |
28. | 'n Deugniet wat getuienis gee, spot met die reg, en die mond van die goddelose verslind onreg. |
29. | Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase. |
← Proverbs (19/31) → |