| ← Proverbs (15/31) → |
| 1. | 'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom. |
| 2. | Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel. |
| 3. | Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies. |
| 4. | Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees. |
| 5. | Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. |
| 6. | In die huis van die regverdige is 'n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring. |
| 7. | Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie. |
| 8. | Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig. |
| 9. | Die wandel van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief. |
| 10. | 'n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe. |
| 11. | Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders! |
| 12. | Die spotter hou nie daarvan dat 'n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie. |
| 13. | 'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig. |
| 14. | Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om. |
| 15. | Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees. |
| 16. | Liewer 'n bietjie in die vrees van die HERE, as 'n groot skat en onrus daarby. |
| 17. | Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby. |
| 18. | 'n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar. |
| 19. | Die weg van die luiaard is soos 'n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak. |
| 20. | 'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens verag sy moeder. |
| 21. | Sotheid is 'n vreugde vir die verstandelose, maar 'n man van verstand wandel reguit. |
| 22. | Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand. |
| 23. | 'n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is 'n woord op sy tyd! |
| 24. | Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk. |
| 25. | Die HERE ruk die huis van die trotsaards om, maar die grenslyn van die weduwee stel Hy vas. |
| 26. | Die planne van die slegte is vir die HERE 'n gruwel, maar vriendelike woorde is rein. |
| 27. | Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe. |
| 28. | Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel. |
| 29. | Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy. |
| 30. | Stralende oë verbly die hart; 'n goeie tyding maak die gebeente vet. |
| 31. | Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef. |
| 32. | Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand. |
| 33. | Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf. |
| ← Proverbs (15/31) → |