← Matthew (22/28) → |
1. | En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: |
2. | Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het |
3. | en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. |
4. | Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. |
5. | Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en 'n ander na sy handelsaak. |
6. | En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. |
7. | Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. |
8. | Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. |
9. | Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. |
10. | En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. |
11. | En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie. |
12. | En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. |
13. | Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. |
14. | Want baie is geroep, maar min uitverkies. |
15. | Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik. |
16. | En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie-- |
17. | sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? |
18. | Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: |
19. | Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring. |
20. | En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? |
21. | Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. |
22. | En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan. |
23. | Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom |
24. | en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. |
25. | Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. |
26. | So ook die tweede en die derde tot die sewende toe. |
27. | En laaste van almal het die vrou ook gesterwe. |
28. | In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees--want hulle almal het haar gehad? |
29. | Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. |
30. | Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. |
31. | En wat die opstanding van die dode betref--het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: |
32. | Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. |
33. | En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. |
34. | En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. |
35. | En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: |
36. | Meester, wat is die groot gebod in die wet? |
37. | En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. |
38. | Dit is die eerste en groot gebod. |
39. | En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. |
40. | Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. |
41. | En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle |
42. | en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n. |
43. | Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: |
44. | Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete? |
45. | As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? |
46. | En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie. |
← Matthew (22/28) → |