← Lamentations (3/5) → |
1. | Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. |
2. | My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. |
3. | Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my. |
4. | Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek. |
5. | Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite. |
6. | Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. |
7. | Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. |
8. | Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord. |
9. | Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak. |
10. | Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. |
11. | Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak. |
12. | Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel. |
13. | He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan. |
14. | Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag. |
15. | Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink. |
16. | Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk. |
17. | En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet. |
18. | Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE. |
19. | Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif. |
20. | As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. |
21. | Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: |
22. | Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; |
23. | hulle is elke môre nuut; u trou is groot. |
24. | Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. |
25. | Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. |
26. | Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. |
27. | Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. |
28. | Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. |
29. | Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop! |
30. | Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad. |
31. | Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. |
32. | Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; |
33. | want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. |
34. | Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap, |
35. | dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, |
36. | dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie gesien nie? |
37. | Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? |
38. | Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie? |
39. | Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes. |
40. | Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer; |
41. | laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: |
42. | Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie. |
43. | Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning. |
44. | U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie; |
45. | U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak. |
46. | Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek; |
47. | skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking. |
48. | My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk. |
49. | Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou, |
50. | totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou. |
51. | My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad. |
52. | Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is; |
53. | hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi. |
54. | Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my! |
55. | Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil. |
56. | U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. |
57. | U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! |
58. | Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe. |
59. | U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg. |
60. | U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my. |
61. | Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my, |
62. | die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my. |
63. | Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied. |
64. | Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE. |
65. | U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle. |
66. | U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit. |
← Lamentations (3/5) → |