← Job (9/42) → |
1. | Maar Job het geantwoord en gesê: |
2. | Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan 'n mens regverdig wees by God? |
3. | As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie. |
4. | Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly? |
5. | Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn; |
6. | wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril; |
7. | wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter 'n seël wegsluit; |
8. | wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see; |
9. | wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide; |
10. | wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal. |
11. | Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk. |
12. | Sleep Hy weg--wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U? |
13. | God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip. |
14. | Hoeveel minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom; |
15. | Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek! |
16. | As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie. |
17. | Hy wat my deur 'n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder; |
18. | my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede. |
19. | Kom dit aan op die krag van die sterkste--hier is Ek! En kom dit op reg aan--wie kan My dagvaar? |
20. | Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as 'n verkeerde reken. |
21. | Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe! |
22. | Dit is net eenders--daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy. |
23. | As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges. |
24. | Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders? |
25. | Ja my dae was gouer as 'n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien. |
26. | Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos 'n arend wat neerskiet op sy prooi. |
27. | As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word, |
28. | dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie. |
29. | Ek sal tog skuldig wees--waarom sal ek my dan tevergeefs afmat? |
30. | Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog, |
31. | dan sou U my in 'n poel indompel, sodat my klere van my 'n afsku kry. |
32. | Want Hy is nie 'n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie. |
33. | Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie. |
34. | Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie; |
35. | dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie. |
← Job (9/42) → |