| ← Job (8/42) → | 
| 1. | Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê: | 
| 2. | Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond 'n geweldige wind wees? | 
| 3. | Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk? | 
| 4. | As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee. | 
| 5. | As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek, | 
| 6. | as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid; | 
| 7. | dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot. | 
| 8. | Want doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het; | 
| 9. | (want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae 'n skaduwee op die aarde is;) | 
| 10. | sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie? | 
| 11. | Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water? | 
| 12. | Nog is dit in sy volle groei--sonder dat dit afgepluk word--dan verdor dit voor al die ander gras. | 
| 13. | So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose; | 
| 14. | sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is 'n spinnerak. | 
| 15. | Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie. | 
| 16. | Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin. | 
| 17. | Sy wortels is gevleg oor 'n hoop klippe heen, 'n kliphuis deurboor hy. | 
| 18. | As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie. | 
| 19. | Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit! | 
| 20. | Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie. | 
| 21. | Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig, | 
| 22. | sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose--weg is dit! | 
| ← Job (8/42) → |