| ← Job (7/42) → |
| 1. | Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie? |
| 2. | Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon, |
| 3. | so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem. |
| 4. | As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe. |
| 5. | My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer. |
| 6. | My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting. |
| 7. | Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie. |
| 8. | Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my--en ek is daar nie! |
| 9. | Die wolk verdwyn en gaan heen--so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie. |
| 10. | Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie. |
| 11. | So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel. |
| 12. | Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel? |
| 13. | As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra, |
| 14. | dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte, |
| 15. | sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my. |
| 16. | Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid. |
| 17. | Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee? |
| 18. | En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel? |
| 19. | Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk? |
| 20. | As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is? |
| 21. | En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie. |
| ← Job (7/42) → |