| ← Job (6/42) → | 
| 1. | Maar Job het geantwoord en gesê: | 
| 2. | Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in 'n skaal opgehef! | 
| 3. | Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam. | 
| 4. | Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op. | 
| 5. | Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk 'n bees by sy voer? | 
| 6. | Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van 'n eier? | 
| 7. | My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys. | 
| 8. | Ag, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee! | 
| 9. | En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny! | 
| 10. | Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie. | 
| 11. | Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees? | 
| 12. | Is my krag 'n krag van klip of my vlees van koper? | 
| 13. | Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie? | 
| 14. | Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar. | 
| 15. | My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop, | 
| 16. | wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg-- | 
| 17. | in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek. | 
| 18. | Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan. | 
| 19. | Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag. | 
| 20. | Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld. | 
| 21. | So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees. | 
| 22. | Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my 'n omkoopgeskenk uit julle vermoë? | 
| 23. | Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne? | 
| 24. | Onderrig my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het. | 
| 25. | Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig 'n bestraffing uit, van julle afkomstig? | 
| 26. | Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van 'n wanhopige is vir die wind! | 
| 27. | Ja, julle sou 'n wees uitloot en julle vriend verhandel. | 
| 28. | Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie. | 
| 29. | Keer tog terug--laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug--nóg is my geregtigheid daar. | 
| 30. | Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie? | 
| ← Job (6/42) → |